Internet
Die Internet is ’n wêreldwye stelsel van rekenaarnetwerke wat met mekaar verbind is en data uitruil met behulp van die gestandaardiseerde TCP/IP-protokolsuite. Dis ’n netwerk van miljoene privaat en openbare rekenaars van akademiese, regerings- en sakenetwerke wat verbind word deur optiese vesel- en koperkabels of verskillende soorte kabellose verbindings.
Die naam "Internet" word gewoonlik in spreektaal gebruik om na die Wêreldwye web te verwys, maar laasgenoemde is slegs een van die talle dienste wat deur die Internet beskikbaar is. Ander sluit in e-pos, lêeroordrag (FTP), geselsdienste en aanlynspeletjies.
Die ontstaan
[wysig | wysig bron]Die voorloper tot die Internet was ARPANET – ’n netwerk van militêre netwerke, en later ook universiteitsnetwerke, wat in 1969 in die Verenigde State ontstaan het. Op 1 Januarie 1983 het ARPANET oorgeskakel van die ou NCP-protokol na TCP/IP en so die weg gebaan vir die ontstaan van die moderne Internet.
Dit was egter eers in die negentigerjare dat die publiek die Internet "ontdek" het. In Augustus 1991 het Tim Berners-Lee en Robert Cailliau die Wêreldwye web-projek gepubliseer nadat hulle ’n paar jaar aan HTTP en HTML gewerk het. Die eerste webbladsye het verskyn by CERN in Switserland, waar hulle albei gewerk het.
Met die uitvinding van bladsye wat aan mekaar verbind word deur klikbare skakels (HTML/WWW) het Tim Berners-Lee die Internet inderwaarheid vir die groot publiek beskikbaar gestel. Hy word dus beskou as die uitvinder/grondlegger van die huidige Internet.
Sedertdien het dit ’n wêreldwye fenomeen geword met die karakter van ’n massamedium. Dit is die mees gebruikte kommunikasiemiddel ooit. Een van die bydraende faktore tot die Internet se sukses is waarskynlik dat dit in sy geheel aan niemand behoort nie en kommunikasie daarop feitlik onbeperk is.
Toegang
[wysig | wysig bron]Daar is verskeie metodes om toegang tot die Internet te kry, soos inbelverbindings, breëband (oor ’n koaksiale, optiese vesel- of koperkabel), Wi-Fi, satelliet en 3G-selfone.
Taal
[wysig | wysig bron]Engels is verreweg die oorheersende taal op die Internet (met 30% van gebruikers), gevolg deur Chinees, (17%), Spaans (9%), Japannees (7%), Frans (5%) en Duits (5%).[1]
Die meeste Internetgebruikers is in Asië (40%), gevolg deur Europa (26%), Noord-Amerika (17%), Latyns-Amerika (10%), Afrika (4%), die Midde-Ooste (3%) en Australië (1%).[2]
Internettegnologie het in die laaste jare so goed ontwikkel, veral in die gebruik van Unicode, dat daar tans in feitlik enige taal gekommunikeer kan word, selfs dié wat ander skryfstelsels as die Latynse alfabet gebruik.
Wêreldwye web
[wysig | wysig bron]- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Wêreldwye web.
Soos reeds genoem, is die terme "Internet" en "Wêreldwye web" (soms net die Web genoem) nie sinonieme nie, hoewel dit dikwels so gebruik word.
Die Wêreldwye web is ’n groot stelsel dokumente, beelde en ander bronne wat deur hiperskakels en URL's verbind word. Hierdie skakels en URL's stel webbedieners en ander masjiene waarop die oorspronklikes data gestoor word, in staat om die data te stuur met behulp van HTTP (Hypertext Transfer Protocol). HTTP is slegs een van die kommunikasieprotokols op die Internet.
Met behulp van webblaaiers soos Windows Internet Explorer, Mozilla Firefox, Opera en ander kan Internetgebruikers toegang kry tot webbladsye. Hulle kan ook tussen webbladsye of webwerwe navigeer met behulp van hiperskakels. Webdokumente kan feitlik enige kombinasie van rekenaardata bevat, onder andere grafika, klank, video's, gewone teks, multimedia en interaktiewe inhoud soos webspeletjies, sagteware en demonstrasies.
Deur sleutelwoord-soektogte met soekenjins soos Yahoo! en Google het miljoene mense vinnige, maklike toegang tot ’n oneindige verskeidenheid aanlyninligting. In vergelyking met gedrukte ensiklopedieë en tradisionele biblioteke het die Wêreldwye web ’n skielike en geweldige desentralisasie van inligting en data tot gevolg gehad.
Buiten webwerwe waarmee individue, organisasies en adverteerders ’n ontsaglike hoeveelheid mense kan bereik, word belangstelling in die Web ook aangevuur deur verskynsels soos webjoernale of blogs, asook versamelings persoonlike webbladsye soos dié op GeoCities, Facebook en Myspace. So word miljoene mense in staat gestel om op die Internet te kommunikeer sonder ’n groot kennis van onder andere HTML-teks.
Met meer moderne stelsels soos wiki-sagteware kan mense ook met behulp van vooraf ontwerpte bladsye bydra tot ’n gemeenskaplike doel soos die skep van ’n ensiklopedie soos Wikipedia.
Sien ook
[wysig | wysig bron]Verwysings
[wysig | wysig bron]- ↑ Internet World Stats, besoek op 31 Maart 2008
- ↑ World Internet Usage Statistics News and Population Stats, besoek op 30 Junie 2008
Eksterne skakels
[wysig | wysig bron]Wikimedia Commons bevat media in verband met Internet. |
Sien Internet in Wiktionary, die vrye woordeboek. |
- World of Ends, What the Internet Is and How to Stop Mistaking It for Something Else deur Doc Searls en David Weinberger
- The Internet Society (ISOC)
- Internet Mapping Project Geargiveer 6 Januarie 2006 op Wayback Machine
- RFC 801, planning the TCP/IP switchover
- peepo a graphic portal for people with low literacy Geargiveer 9 Januarie 2016 op Wayback Machine
- Web content by language
- Statistieke oor Internettoegang en -gebruik: [1] Geargiveer 8 Junie 2003 op Wayback Machine, [2] Geargiveer 19 Maart 2017 op Wayback Machine, [3] Geargiveer 3 Junie 2004 op Wayback Machine, [4] Geargiveer 7 April 2014 op Wayback Machine (pdf)
- Access at home, by native language Geargiveer 5 Februarie 2005 op Wayback Machine
- Internet Directory Geargiveer 8 Februarie 2016 op Wayback Machine
- John Walker: The Digital Imprimatur
- addressingtheworld.info – website accompanying a book (ISBN 0-7425-2810-3) on the history of DNS
- Show your IP address
- Hierdie artikel is merendeels vertaal vanaf die Engelse Wikipedia-artikel en:Internet